fbpx
Media Exposure
Groot Plaas – Jobs4Carbon Onderhoud

Groot Plaas – Jobs4Carbon Onderhoud

Vertel meer van die Jobs for Carbon projek 

Die Jobs for Carbon (J4C) projek is die eerste grootskaalse veld rehabilitasie projek soos ge-onderneem deur die Gouritz Groepbiosfeerreservaat(GCBR).

Die GCBR is op ‘n wêreldskaal uniek en uitsonderlik omdat dit die enigste biosfeerreservaat is waar drie erkende biodiversiteit brandpunte te wete, Fynbos, Sukkulente Karoo en Subtropiese Ruigtewoud bymekaar kom.

Die GCBR is gedurende 2011 gestig as ‘n maatskappy sonder winsbejag.

Op die 9de Junie 2015 is die GCBR deur UNESCO (United Nations Education, Scientific and Cultural Organisation) as die 7de biosfeerreservaat in Suid-Afrika verklaar

Ewe opwindend is dat binne die grense van die GCBR, 18 UNESCO verklaarde Wêrelderfenis gebiede is.

Wat is Jobs for Carbon, en wat is jou rol in die program?

Die Jobs for Carbon projek is in 2015 in die omgewing van Vanwyksdorp van stapel gestuur en in kort beteken dit, die rehabilitasie van spekboom veld deur die aanplant van spekboom steggies op die privaat eiendom van gewillige grondeienaars en ‘n proses wat gelei het tot  werkskepping. Dit het verder bygedra tot die ontwikkeling van vaardighede en die opheffing van ‘n totale gemeenskap.

Ek is die operasionele bestuurder van die projek, verantwoordelik vir die spanne, die toerusting en identifiseer waar geplant moet word.

Wat behels die herstelwerk? 

Die eerste aktiwiteit in die herstel proses is om vas te stel waar spekboom oorspronklik voorgekom het, voordat dit deur onoordeelkundige veldgebruik en oorbeweiding vernietig is. Dit word gedoen deur ‘n proses van kartering deur botaniste. In hierdie geval is dit gedoen deur Jan Vlok, top Suid-Afrikaanse botanis en veldkenner van die Klein Karoo. Die persele waar aanplanting sal geskied word aan die hand van die kaart geïdentifiseer.

Nadat potensiële plantpersele geïdentifiseer is, vind ‘n uitreik proses na privaat grondeienaars plaas. Die grondeienaars word daarop gewys dat hul eiendom ingevolge die kartering, binne die geïdentifiseerde plant gebied val en of hulle belangstel dat hul veld gerehabiliteer en herstel word. Hulle word ook gewys op die feit dat die herstelwerk gratis is, met  onttrekking van beweiding vir ‘n tydperk van 10 jaar op die spesifieke eiendom. Indien die grondeienaar belangstel en instem tot ‘n 10 jaar onttrekkings periode, sluit die partye ‘n formele kontrak . Sodra ons grond het om te plant, volg die plant proses.

Hoe en deur wie word die aanplantings gedoen 

‘n Plant span van 60 is uit werklose mense in die Vanwyksdorp omgewing saamgestel. Hierdie span is vir ‘n maand opgelei in verskeie dissiplines byvoorbeeld, noodhulp, gesondheid en veiligheid, hantering van slange, brandbestryding, persoonlike finansies, biodiversiteit, die oes en plant van steggies.

Sodra ons ‘n gewillige grond eienaar het kan ons begin met die maak van gate – die grond in ons omgewing is geweldig droog en hard, en die gate-grawe is definitief die moeilikste gedeelte van die herstel proses. Ons grawe gate van 20cm diep, omtrent 20cm wyd, en die gate is 3m van mekaar af.

Die bron van die steggies is ongeskonde spekboom plante wat naby aan die herstel area groei. Ons mense is goed opgelei, en hulle weet presies hoeveel steggies om van ‘n sekere grote spekboom te oes, sodat dit nie skade aan die plant doen nie.

Die steggie word gesny op ‘n lengte van 50cm en ‘n dikte van 25 tot 30mm. Takkies aan die onderste 20cm word verwyder en nadat die steggies twee dae gelê het, is dit gereed om geplant te word. Steggies word in die voorbereide gate geplant, goed vasgetrap met ‘n dammetjie wat reënwater kan opvang. Elke steggie word 1 liter water gegee na planting. Areas ver van toegangs roetes, word geplant net na genoeg reën geval het. In sulke gevalle word die 1 liter water nie toegedien. 

Jy sê dat die projek al in 2015 gestig is – so loop dit nou al vir drie jaar? 

Die projek loop vanaf 2015, die eerste fase van die projek was vanaf Februarie 2015 tot einde Oktober 2016. Fase een is befonds deur die Europese Unie(EU) en die Departement van Omgewingsake(DEA). In fase 1 het ons 170 000 steggies op 333ha geplant.

Fase 2 het in aanvang geneem in begin Maart 2017. Dit is ‘n een jaar projek en word befonds deur DOB, ‘n Nederlandse familietrust. Die verwagting is om 70 000 plantjies op 50ha te plant. Na verwagting sal hierdie befondsing verleng word.

Waarom die fokus op die spekboom?

Die spekboom is die plant wat die tweede meeste hoeveelheid koolstofdioksied uit die atmosfeer verwyder deur opname. Die koolstof word in die blare, stamme en wortels geberg en weer teruggeplaas in die grond. In hierdie proses word suurstof in die atmosfeer vrygestel. Dit is waarom die plant soms deur kinders die suurstof plant genoem word.

Dit vorm verder ‘n laag, soortgelyk aan kompos, onder die bome. Hierdie laag speel ‘n belangrike rol in die absorpsie van reënwater, wat die grond onder die plant langer nat hou. Dit beperk erosie deur die afvloei van water en met verloop van tyd vestig ander plante langs die spekboom as gevolg van hierdie ideale toestande wat geskep word.

Hoekom moet spekboom veld herstel word? Kan ‘n mens nie net die vee af vat van die gedeeltes nie?

In teenstelling met baie ander plantsoorte, spekboom veld herstel nie maklik van na ‘n sekere punt van agteruitgang nie.

Spekboomryke plantegroei kan grootskaalse beweiding deur mega-herbivore soos olifante, swartrenosters en koedoes weerstaan, maar volgehoue oorbeweiding deur kleinvee vernietig dit so erg dat die spekboom nie weer vanself herstel nadat dit afgevreet is nie.

“n Ander belangrike faktor is dat dit minimaal aanwas op natuurlike wyse. Die rede is dat die ontkiemings tydperk van die uiters klein saadjie van die spekboom, baie kort is en dat die ideale omstandighede moet heers vir dit om te kan geskied. Hierdie ideale omstandighede bestaan nie meer in die Klein Karoo.

Gelukkig groei die spekboom baie maklik van steggies indien die regte voorbereiding en plant metodes gevolg word.

Faktore wat groei beïnvloed 

Die spekboom is van verskeie faktore afhanklik vir groei.

Die Vanwyksdorp-gebied het normaalweg ’n gemiddelde reënval van 200 tot 250mm, maar die afgelope twee jaar het gemiddeld slegs 50 tot 85mm geval. Selfs met die ondergemiddelde reënval die afgelope twee jaar, het sowat 60% van die nuut-aangeplante steggies oorleef, wat binne ons beoogde doelwit van 50% is. Nietemin sal ten minste tien jaar van gemiddelde en bogemiddelde reën nodig wees vir noemenswaardige herstel van die veld.

Die stamgroei wissel in die eerste vyf jaar. Die steggies gebruik hul energie om in die eerste aantal jare wortelgroei en ondergrondse stamme te ontwikkel. Sodra die plante goed gevestig het, kan stam-ontwikkeling ná goeie somerreën versnel. Die spekboom reageer nie juis op winterreën nie, veral nie as die dagtemperature onder 20°C is nie.

Soos wat die kroonbedekking van ’n spekboom herstel, word ál meer humus onder die boom beskikbaar gestel, wat tot beter waterindringing lei. Namate die algemene grondtoestand verbeter, vergemaklik dit die natuurlike vestiging van ander plantsoorte waaruit natuurlike spekboomryke plantegroei bestaan.

Beweiding beperk die bogrondse groei, maar dit help terselfdertyd dat die spekboom ’n sterk basis en wortelstelsel ontwikkel. Mettertyd sal die spekbome wel ’n geleentheid kry om op te skiet. 

Uitstaande kenmerke van die spekboom 

Die spekboom, ’n immergroen struik of klein boom, verbasend weerstandig teen droogte, hitte en die meeste siektes.

Kleiner bome van minder as ’n meter hoog is egter gevoelig vir swartryp.

Dit aard nie in brak grond nie en die grond, hetsy sanderig of kleierig, moet redelik goed gedreineer wees.

Spekboomryke plantegroei is uitstekende habitat vir wild. Dit verskaf skuiling en kos in die winter wanneer grasse en kleiner bossies nie meer eetbaar is nie.

Waar digte stande spekboom voorkom, kan dit vuur keer, wat dit ’n goeie heiningplant maak. Onder uiterste omstandighede sal die blare en stamme wegskroei, maar groot spekbome spruit weer uit ná ’n brand.

Tags :